
Eers besoek ons die Motor Museum, betaal R60, en kry of koffie of tee of melkskommel op die huis en ry toe so n bietjie rond in die dorp. Mooi, skoon en pragtige Knysna. Pragtige muursketse orals te sien.
Geskiedenis:
Terwyl die trek van die ou pioniers vanaf George noordwaarts oor die byna onbegaanbare Cradockpas en langs die Langkloof af gegaan het, het ander veeboere en die weetgierige, ondernemende ou reisigers moeisaam ’n kronkelpad uitgekap deur die diep, donker bosbegroeide klowe en langs die met wit sand omsoomde kus. Van George het die pad deur die gevaarlike steil Kaaimansgat geloop. Op die hoë rug bokant Wilderness het dit verbygegaan en afgedaal na die mere op sy weg na Knysna en oor die heuwels na Plettenbergbaai.
Teen die einde van die 18de eeu het daar in hierdie pragtige Knysnavallei reeds ’n aantal veeboere verspreid op leningsplase gewoon. So het Stephanus Terblans op die later so bekende Melkhoutkraal, oos van die huidige Knysna, en Jan Terblans op die teenswoordige Belvidere, wes van die lagune, gewoon. Avontuurlike ou reisigers soos Van Plettenberg en Le Vaillant het hier deurgetrek.
Die jaar 1804 lui ’n totaal nuwe era in die geskiedenis van Knysna in. In hierdie jaar vestig die legendariese koningseun George Rex hom op die plaas Melkhoutkraal wat hy van die vorige eienaar gekoop het. Deur aankoop en skenking brei hy in die daaropvolgende jare sy domein tot 10 000 hektaar uit. Wes van die rivier het dit o.a. die bekende plase Belvidere en Westford ingesluit, wat vandag as ’t ware deur die nasionale pad van mekaar geskei is.
Die nasionale pad van George loop ’n steil bult af na ’n lang brug oor die Knysna-Iagune. Net voor die brug draai ’n pad links en verdeel dadelik weer in twee. Suidwaarts, onder die brug deur, loop een na Belvidere en Brenton, en noordwaarts, langs die rivier op, gaan die ander na Westford.
Belvidere is rondom 1833 deur kaptein Thomas H. Duthie van sy skoonvader, George Rex, gekoop, en dit is veral bekend vir die pragtige kerkie wat Duthie daar Iaat bou het. Westford, geleë aan die voet van die ou Phantom-pas, is op sy beurt bekend vir die glybaan van stinkhoutbalke wat George Rex vir die tewaterlating van sy skip, die Knysna, Iaat bou het.
Met al die pragtige houtbosse in die omgewing het George Rex besluit om ’n skeepsbou-industrie in Knysna te begin. As hoof van hierdie onderneming het hy James Smith aangestel. Hy het uit Kaapstad ’n skeepsboumeester en ander ambagsmanne in diens geneem. ’n Glybaan of helling is gebou en daarop is in 1826 die kiel van die Knysna, ’n stinkhoutbrik van 129 Mg, gelê. Die bou van die skip het ongeveer vier jaar geneem en in 1830 word daarmee reeds plesiertogte op die rivier gedoen. Op 26 Julie 1831 vertrek dit onder die kapteinskap van ’n sekere Watt met sy eerste vrag na Kaapstad, en nou kom dit op die kusvaart in gereelde diens, en vaar o.a. in 1836 na die mond van die Buffelsrivier met ’n vrag graan vir die grenstroepe. Daarna bevaar dit jare lank die oseane om uiteindelik in die jare sewentig gebruik te word om steenkool langs die kus van Wallis te vervoer.
Die ou glybaan het by almal, behalwe die Duthiefamilie, in vergetelheid geraak. In 1946 word dit deur mnr. Robert Veldtman blootgelê en die reuse-stinkhoutbalke, wat totaal ongeskonde was, is met osse uitgesleep. Mnr. F.W. Newdigate en die inwoners van Knysna het nou daarop aangedring dat die balke bewaar word, en die S.A. Spoorweë en Hawens het daarop beslag gelê. Dit is aan die Afdelingsraad van Knysna oorhandig wat daaruit ’n pragtige raadstafel en ’n stel stoele vir sy nuwe gebou laat maak het. Op die plek waar die ou glybaan was, het die Historiese Monumentekommissie ’n bronsplaat Iaat oprig.
Informasie volgens www.afrikanergeskiedenis.co.za
Add new review