‘n Baie interresante besoek aan die huis "Arbeidsgenot" van die bekende CJ Langenhoven. Die huis binne is nog soos wat hy en sy vrou geleef het, jy kan net tot in die deur staan, want dit is toegemaak met glas, wat dit baie moeilik maak om foto's te neem. Lees gerus meer oor CJ Langenhoven op Wikipedia.
Cornelis Jacob Langenhoven was ’n regsgeleerde, koerantredakteur en Afrikaanse skrywer, digter en dramaturg. Hy het as skrywersname C.J. Langenhoven en Sagmoedige Neelsie gebruik. Sy rol in die Afrikaanse literatuur en kultuurgeskiedenis was formidabel. As Volksraadslid en senator speel hy ’n groot rol in die erkenning van Afrikaans as amptelike landstaal.
Cornelis Jacob Langenhoven is net na middernag in die vroeë oggendure van 13 Augustus 1873 op die plaas Hoeko in die distrik Ladismith, Kaap gebore, slegs ’n paar uur nadat sy ouer broertjie (Andries Petrus Blignault Langenhoven) omgekom het in ’n brand in ’n stroois op die werf. Vyf dae na sy geboorte is Langenhoven se moeder oorlede en in hierdie omstandighede word hy groot by sy oom Pieter Guillaume Langenhoven (10 April 1836 – 2 Julie 1919), sy vader se ouer broer, en tante Margarita Susanna Petronella Blignault (29 Oktober 1826 – 24 Augustus 1912), sy moeder se ouer suster, wat ook op die plaas Hoeko gewoon het en vir wie hy as sy ouers aanvaar. Sy oom en tante het nie eie kinders nie.
Langenhoven se skoolopleiding ontvang hy hoofsaaklik in Engels, eers van ’n aantal goewernantes en dan vanaf 1883 in die nuutgestigte plaasskool op Hoeko by die Hollandse Meester Marthinus Paulus Bloemkolk. Vanaf 1888 gaan hy na die dorpskool op Ladismith waar meneer J.R. Frylinck die hoof was en in Junie 1890 kom hy eerste in die Hoërskooleksamen in die destydse Kaapkolonie. Dan gaan hy vanaf Julie 1890 skool onder mnr. C.F. Rosenow by die Riversdal Public School for Boys. Hier loseer hy aan huis van die parlementslid mnr. Daniel du Plessis Bland en hy matrikuleer in Junie 1892, waartydens hy derde op die merietelys van die Kaapkolonie geplaas word. Op skool ontwikkel hy ’n besondere voorliefde vir Latynse prosa, wat later goed te pas kom by sy studie in die regte en sy direkte en ekonomiese skryfstyl help vorm. Op Riversdal stig hy ’n skooldebatsvereniging en is redakteur van die weeklikse skoolblad, wat hy onder die naam “The Pursuit of Knowledge” begin. Hy katkiseer en word in 1892 aangeneem by die NG Kerk op Ladismith, maar worstel vir lank met sy geloofsekerheid. In 1893 ontmoet hy die onderwyseres Helena de Vries van Prins Albert tydens ’n debatsaand wat op Ladismith gehou is en hulle raak in 1894 verloof.
Vanaf die begin van 1893 studeer hy aan die Victoria-Kollege (later die Universiteit van Stellenbosch). Sy doelwit was om hom in die regte te bekwaam, maar Stellenbosch het nog nie ’n regsfakulteit gehad nie. Hy het dus beplan om eers die B.A.-graad op Stellenbosch te verwerf en dan óf by die South African College in Kaapstad in te skryf óf deur selfstandige studie as prokureurklerk te kwalifiseer. Hy vind die universiteitslewe vervelig en aangesien dit indertyd onnodig was om klasse by te woon om eksamens af te lê, bly hy die hele 1894 op die plaas vir selfstandige studie. Sy besluit om tuis te bly is waarskynlik ook versterk deur sy begeerte om meer tyd saam met Helena de Vries deur te bring. Aanvanklik is hy ingeskryf vir Engels, Nederlands, Latyn, Grieks, Logika en Sielkunde, maar hy skryf nie eksamens in Grieks en Sielkunde nie, terwyl sy uitslae in die ander vakke nie besonder goed is nie. Hy besef dat hy leiding nodig het en keer dan die volgende jaar terug kampus toe, waar hy in Junie 1895 die B.A.-graad behaal. Op universiteit het hy ’n aktiewe aandeel aan die debatsvereniging. In 1893 lewer hy as eerstejaarstudent ’n rede oor “What shall be the future language of South Africa?” waarin hy aandui dat hy dink dat Engels die taalstryd sal wen, dat daar geen toekoms is vir Nederlands nie en dat Afrikaans op daardie tydstip nie die vermoë bied vir intellektuele opvoeding nie, omdat dit nie ’n letterkunde het nie en slegs ’n beperkte woordeskat bevat.
Vanaf 8 Julie 1895 is Langenhoven onderwyser by ’n eenmanskooltjie op die plaas Langlaagte in die Transvaalse distrik Heidelberg. Sy termyn as hoof van hierdie skooltjie is nie ’n sukses nie en hy keer in Maart 1896 terug na Hoeko. Hy bly vir ’n tyd op die familieplaas, maar vestig hom dan op Ladismith, waar hy aanvanklik private onderwys gee. ’n Paar maande na sy terugkeer uit Transvaal word sy verlowing met Helena de Vries verbreek. Hy gaan kuier dan by Anna van Velden, vir wie hy private klasse gee om haar met haar skoolwerk te help. Gou raak hy verlief op Anna se ma, die weduwee Lenie van Velden. Op 23 Februarie 1897 trou hy op Ladismith met die tien jaar ouer Magdalena Maria (Vroutjie) Hugo (in daardie stadium die weduwee Van Velden). Sy is op 12 Mei 1863 op die plaas Nobelsfontein naby Victoria-Wes gebore en is op 23 Mei 1950 oorlede. Sy het reeds vier kinders uit haar vorige huwelik gehad.. Hulle bly aanvanklik in sy vrou se huis op Ladismith, maar die verhouding tussen Langenhoven en sy stiefkinders, wat by hulle inwoon, is van die begin af nie baie goed nie. Later sou dit verder versleg weens Langenhoven se drinkery en ingrypende politieke verskille.
Van die einde van 1896 tot 1899 skryf Langenhoven in as kandidaat-prokureur by die firma Th. C.W. Johnson op Ladismith en hy verwerf in Junie 1899 die LL.B.-graad deur private studie aan die University of the Cape of Good Hope. Hy is nou gekwalifiseer om as beide advokaat en prokureur te werk. Op 17 Augustus 1899 word hy op die prokureursrol geplaas en begin hy as vennoot in die kantoor van J.A. Foster op Oudtshoorn. Hy is aanvanklik alleen na Oudtshoorn, maar op 18 Oktober 1899, ’n week nadat oorlog tussen die twee noordelike republieke in Suid-Afrika en Engeland verklaar is, sluit sy vrou en stiefkinders hulle by hom aan in ’n huurhuis in Hoopstraat in Oudtshoorn. Die verhouding tussen Langenhoven en Foster werk nie goed uit nie en ná twee jaar as prokureur besluit hy om as advokaat in Kaapstad te praktiseer. Op 15 Augustus 1901 word Langenhoven dan as advokaat toegelaat in Kaapstad, ’n beroep wat hy tot 13 November 1902 sonder veel sukses beoefen. Sy vrou is met sy vertrek swanger en bly in hierdie omstandighede in Oudtshoorn agter en hy sluit weer by haar aan tussen Oktober 1901 en einde Januarie 1902 om haar by te staan met die bevalling. Op 22 Desember 1901 word sy enigste dogter, Margarita Rachel Engela, gebore. Engela is later met Niko Brümmer, ’n tandarts, getroud en hulle het een seun, Guillaume. Engela is op 20 Julie 1975 in die hospitaal op Ladismith oorlede. Guillaume, wat in 1971 ’n Ph.D.-graad in Wiskunde aan die Universiteit van Kaapstad behaal het, is getroud met Laetitia Conradie en hulle het drie seuns en ’n dogter, die bekende skryfster Willemien Brümmer.
In Kaapstad begin Langenhoven reeds om alkohol oormatig te gebruik, ’n probleem wat hom die res van sy lewe sou kniehalter en in die tyd van sy verwydering van sy vrou ook tot groot spanning in die huwelik lei. Hy is na die geboorte van Engela teen die einde van Januarie 1902 terug na Kaapstad om sy praktyk as advokaat voort te sit, weer met weinig sukses. In Junie 1902 keer hy terug na Oudtshoorn om een saak te behartig en is in Augustus 1902 vir ’n laaste keer Kaapstad toe. Teen November 1902 is hy terug as prokureur op Oudtshoorn, weer in Foster se kantoor, waar hy onder meer wyd bekendheid verwerf op die gebied van watergeskille. Verder hanteer hy algemene sake wat gewoonlik op ’n plattelandse prokureur se pad kom, soos testamente en erfenisse, boedelprobleme, koop- en huurkontrakte, invorderings van agterstallige skuld, dagvaardings en enkele gevalle van diefstal, bedrog, egskeiding en naamskending. Waar hulle voorheen ’n huis gehuur het, koop sy vrou in Junie 1903 die huis waaraan hy die naam Arbeidsgenot gee en waar hy die res van sy lewe woon. Vanaf einde Maart 1912 is hy nie meer voltyds in die regspraktyk nie, maar hy behartig van tyd tot tyd tot 1918 nog enkele sake. Sy stiefdogter Anna van Velden het hom bygestaan in sy kantoor in Kerkstraat en later het Allan Pocock, wat met sy stiefdogter, Bessie, getrou het, as kandidaatprokureur by hom en Foster ingeskryf. Langenhoven was tot 1928 as prokureur geregistreer, waarna hy die Wetsgenootskap van die Kaap die Goeie Hoop versoek het dat sy lidmaatskap beëindig word omdat hy totaal onaktief is in die regswese.
C.J. Langenhoven se bekendste werk is Die Stem van Suid-Afrika wat hy in 1918 geskryf het. Die musiek daarvoor is in 1921 deur M.L. de Villiers gekomponeer. 'n Passasie uit Die Stem vorm vandag 'n deel van die Volkslied van Suid-Afrika, en het selfs 'n liefdesgedig (in bogtaal) aan sy hond geskryf.
Langenhoven was instrumenteel in die beweging om Afrikaans erken te kry as amptelike taal, asook as eerste taal in skole in plaas van Nederlands. Afrikaans is in 1925 amptelik in die parlement gebruik, en uiteindelik in 1927 erken as 'n amptelike taal van Suid-Afrika saam met Engels.
Add new review